Arbitrasie
Arbitrasie is ’n vorm van alternatiewe geskilbeslegting – ’n voorgeskrewe prosedure vir die aanvanklike beslegting van geskille buite die hof. Die partye verwys ’n geskil na een of meer persone (die “arbitreerders” of “arbitrasiegroepe”) en is verplig om die arbitrasiebeslissing te aanvaar. Dit is ’n beslegtingsprosedure waar ’n derde party die bewysmateriaal in die saak ondersoek en ’n beslissing maak wat vir beide partye regsgeldig en afdwingbaar is. Arbitrasie word dikwels vir die beslegting van handelsgeskille gebruik, veral in die konteks van internasionale handelstransaksies. Arbitrasie word ook dikwels in verbruiker- en indiensnemingsaangeleenthede aangewend, waar arbitrasie deur die terme van die werks- of handelskontrakte verpligtend kan wees.
Arbitrasie kan vrywillig of verpligtend wees (hoewel arbitrasie slegs deur ’n wet of ’n regsgeldige kontrak verpligtend gemaak kan word wat deur die partye gesluit is. Die partye kom ooreen dat hulle alle bestaande en toekomstige dispute na arbitrasie verwys, sonder om noodwendig spesifiek te weet, watter dispute ooit sal voorkom). Arbitrasie kan òf regsbindend òf nie-bindend wees. Nie-bindende arbitrasie is soortgelyk aan bemiddeling aangesien ’n besluit nie aan die partye voorgeskryf kan word nie. Die hoofverskil is egter dat ’n bemiddelaar probeer om die partye te help om ’n middelweg te vind sodat hulle tot ’n vergelyk kan kom, terwyl ’n (nie-bindende) arbitreerder heeltemal onbetrokke bly by die skikking en slegs ’n beslissing t.o.v. aanspreeklikheid lewer, en indien toepaslik, ’n aanduiding maak t.o.v. die kwantum van die skadevergoeding. Luidens die definisie is arbitrasie bindend, en gevolglik is nie-bindende arbitrasie tegnies gesproke nie arbitrasie nie.
Terug na definisies