Insolvensiereg
Insolvensiereg wat Sekwestrasie, Likwidasie en Besigheidsredding behels, word relevant as die billik geskatte skulde die billik geskatte bates oorskry en insolvensie onder objektief bepaalde omstandighede vasgestel kan word. Krediteure het verskeie regsmiddels tot hulle beskikking om betaling van ’n debiteur te verhaal, bv. dagvaarding, vonnis, lasbrief vir eksekusie, loonbeslagorder of besoldigingsbeslagorder. Ingeval die bogenoemde regsprosedures ’n krediteur nie instaat stel om die skuld te verhaal nie, kan hy sy toevlug tot die Wet op Insolvensie Nr. 24 van 1936 (soos gewysig) neem.
Die boedel van ’n debiteur mag as gevolg van sy/haar eie formele versoek gesekwestreer word, d.m.v. sy/haar aansoek by die Hoë Hof van Suid-Afrika vir die aanvaarding van die oorgawe van die boedel. Die belangrikste toets vir die toestaan van so ’n aansoek is of dit tot voordeel vir die krediteure is as die boedel gesekwestreer word.
’n Krediteur met ’n onbetaalde en bewysbare eis met ’n sigwaarde van minstens R100.00 (een honderd Rand) mag by die hof aansoek doen vir die verpligte sekwestrasie van die debiteur se boedel. Sodra die insolvent ’n hofbevel ontvang, word sy/haar boedel van hom/haar ontneem en deur ’n trustee bestuur of in die geval van ’n maatskappy, deur ’n likwidateur, wat in die beste belang van die krediteure optree. Alle siviele prosesse word opgeskort en die eis van elke krediteur word behandel soos dit op die dag van uitreiking van die hofbevel was. Die herstel van die solvensiestatus voor 10 (tien) jaar vanaf die dag van die hofbevel is nie ’n reg nie, maar is afhanklik van die gedrag van die insolvent en is onderhewig aan regterlike diskresie.
Besigheidsredding beoog die herorganisasie van ’n maatskappy wat in finansiële nood is om die finansiële lewensvatbaarheid, soos voorsien in die Maatskappyewet Nr. 71 van 2008, te herstel.
Besoek asb. ook en verwys na Handelsreg hierbo en Kontraktereg, Borgstelling en Kredietreg hieronder aangesien dit verwante onderwerpe is.