Bemiddeling
Bemiddeling, anders as arbitrasie, is ’n begrip wat ’n soort alternatiewe geskilbeslegting beteken – ’n wyse om geskille tussen twee of meer partye te besleg. Die bemiddelaar help die partye om ’n ooreenkoms t.o.v. hulle geskille te bereik. Strydende partye kan geskille op verskillende gebiede laat bemiddel, bv. handels-, regs-, diplomatieke, werksplek-, gemeenskaps- en familieaangeleenthede.
Die proses is privaat en vertroulik, en kan deur die hof beveel word. Deelname is tans vrywillig, maar sal in die toekoms deur die wet voorgeskryf word. Die bemiddelaar tree as ’n neutrale derde party op en fasiliteer eerder as dat hy die proses oorheers.
Die voordele van bemiddeling sluit die volgende in:
Beheer – Bemiddeling verhoog die beheer van die partye oor die besluit. In ’n hofsaak verkry die partye ’n besluit, maar die voorsittende regter oorheers die prosedure. Die waarskynlikheid is groter dat bemiddeling ’n resultaat sal voortbring wat wedersyds vir die partye aanvaarbaar is.
Instemming – Die resultaat word deur die samewerking van die partye bereik en is wedersyds aanvaarbaar. Die bemiddelde ooreenkoms word ook eerder nagekom. Dit kan ’n verdere kostebesparing meebring aangesien dit onwaarskynlik is dat die partye regslui moet aanstel om nakoming af te dwing. ’n Bemiddelde ooreenkoms kan in ’n hof afgedwing word.
Wederkerigheid – Dit is tipies dat die partye in ’n bemiddeling gereed is om hulle samewerking te gee om ’n oplossing te vind. Onder die meeste omstandighede beteken die blote feit dat partye bereid is om te bemiddel dat hulle gereed is om die aangeleentheid in der minne te skik. Dit verminder die venyn en stres en het die addisionele voordeel dat die partye se betrekking voor die geskil dikwels behoue bly.
Ondersteuning – Bemiddelaars is ervare en kan moeilike situasies aanpak. Die bemiddelaar tree as ’n neutrale fasiliteerder op en lei die partye deur die proses. Die bemiddelaar help die partye om lateraal te dink sodat daar ’n wye spektrum van moontlike oplossings vir die geskil is.
Terug na definisies